Triade (georganiseerde misdaad)

Die Chinese triades is een van die grootste internasionale misdaadnetwerke in Asië en is betrokke by dwelms, dobbelary en prostitusie.[1] Hulle het veral baie mag in Hongkong, Taiwan en lande met groot Chinese gemeenskappe[2] soos Viëtnam, Australië, Kanada, die VSA en Singapoer.

Die triades kan hul oorsprong terugvoer na die Hongmen, wat weer ’n uitloopsel was van die Tiandihui, ’n weerstandsbeweging wat ten doel gehad het om die Qing-dinastie omver te werp. In die laat 19de eeu is takke van die Hongmen ook deur Chinese gemeenskappe oorsee gestig.

Ná die omverwerping van die Qing-dinastie in 1911 was die Hongmen skielik sonder ’n doel. Hulle het daarna in verskillende kleiner groepe verdeel. Sommige kon nie meer op skenkings van lojale ondersteuners staatmaak of ’n normale lewe hervat ná jare van wegkruip nie, en hulle het hulle tot misdadigheid gewend – dit was die begin van die triades.

Ná die stigting van die Volksrepubliek China in 1949 is alle geheime organisasies op die Chinese vasteland uitgewis in ’n reeks veldtogte deur Mao Zedong. Die triades het verskuif na ander lande, soos die VSA, Kanada, Viëtnam, Korea, Japan, Singapoer, die Filippyne, Indonesië, Maleisië, Thailand, Brittanje, België, Nederland, Frankryk, Spanje, Suid-Afrika, Australië, Brasilië en Nieu-Seeland.

Hoewel georganiseerde misdaad na China teruggekeer het ná Mao, is hulle nie deel van die triades nie. Hulle staan bekend as "misdaadorganisasies van die Chinese vasteland". Daar is twee hoofgroepe: "donker magte" (losweg georganiseerde groepe) en "swart gemeenskappe" (beter georganiseerde groepe). Laasgenoemde kan onwettige beheer oor plaaslike markte uitoefen en polisiebeskerming bewerkstellig.[3]

  1. Isbouts, Jean-Pierre. "The Chinese Traids" in "Secret Societies, True Tales of Covert Cults and Organizations and Their Leaders", National Geographic. National Geographic Partners. LLC. Washington. D.C., 2017
  2. Chu, Y. K. (2002). The triads as business. Routledge. ISBN 9780415757249
  3. Wang, P. (2013). The rise of the Red Mafia in China: a case study of organized crime and corruption in Chongqing. Trends in Organized crime, 16(1), 49–73.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne